Volgens die boekDie Geskiedenis van Boerekos 1652 – 1806 van H.W. Claassens is die woord biscuit uit Frans geleen wat “twee keer gebak” beteken. Dié woord het inslag gevind en is gekies bo die dialektiese Nederlandse woord, tweebak. Dit was eintlik nie so vreemd dat hulle die Franse woord (“tweebak“) gekies het nie, want die meeste Nederlanders van die tyd was Frans magtig. Uit die geskiedenis leer ons dat Franse soldate oorlog toe gestuur is met harde brood, wat ‘Biscuit de guerre‘ genoem is – ‘n harde, amper oneetbare koekie gemaak van meel en water.
Die beskuit wat op die VOC-skepe geëet is, was nie veel beter nie. Ook in Die Geskiedenis van Boerekos 1652 – 1806 word uit Peter Kolbe se Naauwkeurige Beschryving van de Kaap de Goede Hoop aangehaal. Dié goed was glo so hard mens kon dit “naauwlyks met de tanden meester worden”.
Lank voordat die beskuitresep in 1761 in “De Volmaakte Hollandsche Keukenmeid” gepubliseer is, het die vroue van die Kaap reeds hul eie beskuit gebak. Die beskuit is verkoop aan die matrose en passasiers van verbygaande skepe en aan ekspedisies wat die binneland van die land aangedurf het.
Alhoewel ’n mens vandag beskuit van hoë, tuisgebakte gehalte in enige supermark in Suid-Arika kan koop, word dit nog steeds deur baie mense self gebak en byna by elke vlooimark en padstalletjie verkoop.
Vandag is dit ook nie meer die harde, wit beskuit van honderde jare gelede nie. Semels, hawer, rosyne en sonneblomsaad word bygevoeg om ’n gesonde vroegoggend happie te maak vir ontbyt of by ’n vieruur koppie koffie!